Daar is baie verskillende katrasse, elk met sy eie voorkoms, geskiedenis en persoonlikheid. Hier is ‘n paar van die bekendste en gewildste rasse.
Die bekendste storie oor hierdie kat is dat vandag se ras ‘n direkte afstammeling is van die heilige katte wat sowat 4 000 jaar gelede aanbid is as die fisieke manifestasies van die gode in die tempels en paleise van die antieke Egiptenare. Abessiniese katte lyk merkwaardig baie na die katte in Egiptiese muurtekeninge en beelde.
Die Abessiniese kat is dapper, nuuskierig en opgewek, en hou nie daarvan om te styf vasgehou te word nie. Maar dit beteken nie dat dit nie liefdevol is nie – veral teen etenstyd! Hulle is natuurlike atlete en hou daarvan om hul mense te vermaak met hul ratse kaperjolle.
Volgens die legende is die Burmese kat ‘n afstammeling van ‘n ras wat eens in Burmese tempels as die beliggaming van gode aanbid is.
Burmese is vermaaklik, spelerig en baie slim, die perfekte interaktiewe katte vir die huis, kantoor, winkel – oral waar mense liefde en vermaak nodig het. Hulle is so aktief soos Siamese katte en is dol oor speel. Burmese is toegewyde, lojale katte wat lief is vir mense. Burmese het ‘n unieke rasperige stem en klink amper asof hulle hees is van te veel praat!
Die Siamees is een van die oudste huiskatrasse en het ‘n lang en kleurryke geskiedenis. Hierdie slanke katte met die pragtige blou oë en mooi geaardheid kom oorspronklik van Thailand (voorheen Siam, vandaar die ras se naam), waar hulle kosbare geselskap vir die koninklikes was.
Siamese katte is baie spraaksaam, en met hulle lae, rasperig miaau sal hulle aanhou om vir jou te sê wat hulle wil hê totdat jy dit vir hulle gee. Hierdie katte dring daarop aan om baie betrokke by jou lewe te wees en is afhanklik van menslike liefde en aandag. As jy dus ‘n Siamees kies, moet jy besef dat jy dit moet oorlaai met liefde.
Die Persiese kat se geskiedenis verloop so: Dit kom oorspronklik van die Chorazan-provinsie van Persië (vandag Iran). In die vroeë 1600s is ‘n Italiaanse reisiger en skrywer genaamd Pietro della Valle gefassineer deur die kat se lang, silwergrys hare en kom tuis met ‘n katras wat nog nooit in Europa gesien is nie. Dit word gou verbind met luukse sykussings en die ryk lewe en kry dadelik aristokratiese status. Dit bly vandag een van die rasse wat die meeste geraak word deur veranderings in modes.
Die Persiese kat is kalm en rustig en word deur byna niks ontstel nie. Om een van hierdie “aristokratiese” diere te hê, wat ook al die kleur, gee jou oorgenoeg geleentheid om iemand te beïndruk. Selfs in minder adellike huise gee dit geen van die koninklike eienskappe prys nie. Persiese katte is geweldig duur, meestal omdat hulle laat seksueel volwasse word en hulle werpsel gewoonlik baie klein is. Maar om in die geselskap van een van hierdie glansryke persoonlikhede te wees, kos meer as net geld. Dit verg absolute versorging.
Daar is niks meer pateties as ‘n onversorgde Persiese kat nie. Dit maak nie saak hoe pragtig dit oorspronklik is nie, hoe trots en majestueus ook al, die Persiese kat kan baie gou onaantreklik en verslons lyk. Hul oë, wat maklik traan, moet elke dag skoongemaak word. Daarby koek die hare maklik en dit is onmoontlik om daarvan ontslae te raak. Dit kan baie moeite wees om die kat elke dag te kam, maar dit is vir ‘n goeie doel. Dit gee jou die geleentheid om ‘n sterker band met jou kat te vestig. Wat die Persiese kat betref, sal jy leer dat enigiets wat die moeite werd is om voor te sorg, die moeite werd is om te hou. Jy sal behae skep in jou toewyding. Letterlik.
Die Manx of stompstertkat leef al eeue lank op die Isle of Man in die Ierse See tussen Engeland en Ierland. Hierdie katte is uitstekende huiskatte. Hulle is intelligente, aktiewe katte wat hulself baie goed kan uitdruk al het hulle nie ‘n stert om te swaai nie. Manx kom baie goed met ander troeteldiere oor die weg (veral honde) en vorm hegte bande met hul eienaars.
Hulle hou daarvan om te speel en is gefassineer deur water – maar natuurlik op hul eie voorwaardes. Manx kan besonder goed spring omdat hulle baie sterk agterbene het. Geen kas of rak is veilig met ‘n Manx in die rondte nie.
Die mooi Burmilla met die delikate kleur word ook die Silwer Burmees genoem. Dit is een van die gewildste nuwe Britse rasse en ‘n groot gunsteling in Australië. Die ras het in 1981 in Engeland begin deur die onbeplande paring van ‘n lila Burmese wyfie en ‘n Silwer Chinchilla mannetjie, vandaar die naam Burmilla.
‘n Deel van die Burmilla se bekoring is die blink hare, silwer of goud onder met ligte puntjies in swart, bruin, of ander standaard Burmese kleure. Dit is ook gewild omdat dit ‘n gematigde geaardheid het. Die kop en lyf is dieselfde as die van ‘n Burmees. Die lyf is lenig en gespierd. Die hare is effens langer as die Burmees s’n, maar glad, sag en blink.
In 1951 het dr. Rose Scheuer-Karpin ‘n rondloperkat aangeneem wat sy by die Hufeland-hospitaal in die toenmalige Oos-Duitsland gesien het. Die swart kat met krulhare het ‘n paar gewone werpsels by plaaslike mannetjies gehad. Maar toe sy met een van haar seuns geteel is, het twee van die vier katjies hul ma se krulhare gehad.
Die katjies se Astrakan-styl hare het die Franse katliefhebber Etienne Letard gefassineer, en hy het een na Frankryk toe ingevoer. Hy en dr. Scheuer-Karpin het ‘n tyd lank aangehou om die Duitse Rex-katte te teel.
Is die Maine Coon enigiets meer as ‘n flou nabootsing van sy wildekatvoorsate van die woud?
Vir sy liefhebbers is hierdie een die grootmeneer, die bobaas, die beste. Bewonderaars gebruik die oortreffende trap om die Maine Coon, die oudste Amerikaanse ras, te beskryf. Een storie beweer dat hierdie indrukwekkende dier die afstammeling van wasbere en wildekatte in die Amerikaanse woude was. In werklikheid is die Maine Coon die gevolg van kruisteling tussen Angora-katte wat deur Britse soldate ingevoer is en die halfwilde katte van Maine se woude. Dit is dus die eerste werklik Amerikaanse ras.
Dit is nie bang vir water nie, en die gunsteling tydverdryf is jag. Dit kan na homself kyk indien nodig – bewys dat die vryheid van ‘n swerwersbestaan nog in sy bloed is. Telers was wys genoeg om by die oorspronklike grootte en bou te hou.
Die Maine Coon is elegant dog taai, sag dog wild, en ook liefdevol, lojaal en selfversekerd. Dit het ‘n edel houding en ‘n besonder sagte stem. Dit is ‘n uitstekende gesinskat. Al hou dit daarvan om binne te wees, het dit toegang tot ‘n agterplaas of ander oop ruimte nodig om te speel. Hulle mag vol lewenslus wees, maar ‘n mens bespied ‘n tikkie weerloosheid. Hulle wil net gelukkig, tevrede en emosioneel rustig wees. !
Die “Peke Face” Persiese kat, ‘n spontane mutasie van die Rooi Persiese kat, word so genoem omdat dit soos ‘n Pekinees lyk. Dit is ‘n omstrede ras wat neig om velprobleme te hê en omdat hul kenmerkende gesigte – sommige mense sê dit is misvorm – bydra tot eet- en asemhalingsprobleme. Sommige telers het eksperimente met die ras so ver gevoer dat die katte soos varkies lyk.
Die “Peke Face” het die Persiese lang hare, maar lang bene en ‘n lang lyf. Die meeste verskille tussen dit en ander Persiese katte is in die kop. Die kop is vierkantig eerder as rond, die kakebeen lank, smal en steek uit. Die stomp neus sit diep in die gesig en is so kort dat dit byna nie sigbaar is nie, met die neusgate gelyk met die oë. Dit is normaalweg moeilik om deur so ‘n neus asem te haal, en haas onmoontlik wanneer die kat ‘n verkoue het. Dit is ‘n kalm kat en kom gewoonlik goed oor die weg met ander katte. Die dik, syagtige hare is rooi of grysbruin (“tabby”) en moet elke dag gekam word.
Hierdie katte, wat ook Hemingway-katte genoem word, word met meer tone aan hul pote gebore weens ‘n genetiese mutasie. Dit is nie bekend waar hulle vandaan kom nie, maar is rondom die sewentiende eeu in die VSA, Engeland, Nova Scotia en Asië opgemerk. Omdat hulle anders lyk, is die katte met heksery verbind en doodgemaak.
Toe mense aan hulle begin gewoond geraak het, het hulle geglo dat hierdie katte gelukbringers is. Veral matrose het van hulle gehou omdat hulle buitengewone jagters en muisvangers is, en hulle is op skepe aangehou. Dit is hoe hulle van Europa na die VSA gekom het.
Hoeveel van hierdie katte is daar?
Die noord-oostelike deel van die VSA het meer polidaktiele katte as enige ander plek. Dit is omdat die Puriteine die kat na Boston, Massachusetts gebring het. Polidaktiele katte kom mees algemeen onder die Maine Coon-ras voor.
Het hierdie katte enige gesondheidsprobleme?
Nie regtig nie. Sommige het probleme met balans en vaardigheid wanneer hulle jonk is weens die ekstra tone, maar mettertyd ontwikkel hulle op dieselfde manier as ander katte.
Maar hulle het ‘n bietjie ekstra sorg nodig, veral die pote. Omdat dit moontlik is dat die naels te lank kan word, moet dit gereeld geknip word om seker te maak dat dit nie in die poot se kussinkie ingroei nie.
Sedert die ras se getalle aansienlik verminder is deur die twee wêreldoorloë is dit geleidelik besig om te herstel, terwyl ander soortgelyke rasse die gaping probeer vul. Die oorsprong van die Russian Blue is onseker, alhoewel sommige mense glo dat matrose by Archangel aan die Witsee grys katte versamel het om in Brittanje te verkoop. Na die Tweede Wêreldoorlog was daar pogings om die ras weer te bou met ‘n kruising van British Blue en Siamese katte, met gemengde gevolge. Hulle het gelerige oë gehad, was swaarder en groter as vandag se katte, en was nie net bekend as Russian Blues nie, maar ook as Archangel-katte, Maltese katte, Spanish Blues en American Blues.
Voorsate van alle Oosterse rasse – of dit nou Siamees is of ‘n kruising tussen Siamese en Korat (of Russian Blue) – kom uit Thailand. Die Oosterse rasse is al eeue lank bekend in Arabiese lande, en het eers laat in die 1800s in Brittanje aangekom en ‘n bietjie later in Noord-Amerika. !
Die Oosterse Langhaar het baie van sy eienskappe van die Siamese kant behou – intelligensie, grasie, nuuskierigheid, ‘n sterk lyf, vertroue, liefdevolheid. Die fyn, digte tekstuur van die kat se hare laat dit minder hoekig vertoon as die korthaar. Dit is lenig, verfynd en baie soepel, die sterthare lank en veeragtig.
Dit is een kat wat amper altyd in ‘n uitstekende fisieke toestand is, maar hou maar die hoofpynpille byderhand want sy onvermoeibare aard kan jou geduld beproef. Desnieteenstaande maak dit ‘n uitstekende troeteldier. As jy reeds in ‘n Oosterse Langhaar belê het, lê daar groot pret voor. Al kry jy dit net omdat jy ‘n ander ras in jou huis wil hê, sal jy dit nogtans waardeer.
Van alle katrasse is die Oosterse Korthaar die meeste soos ‘n hond – wat voorkoms en lojaliteit betref. Vanweë die lang, elegante lyf – ‘n kombinasie van sterk bene en sterk spiere – word daar dikwels na verwys as die windhond van katte. Dit het die spierkrag van ‘n langafstandatleet, word vroeg volwasse, teel maklik en het bogemiddelde groot werpsels.
Om die liggaam so slank te hou, moet dit ‘n byna vetvrye dieet volg. Die stert is dun by die basis, lank en eindig in ‘n skerp punt. Die kort hare is fyn van tekstuur, blink en plat teen die lyf.
Die Oosterse Korthaar hou eenvoudig nie daarvan om alleen te wees nie. Dit eis aandag deur voortdurend teen jou aan te vly. Alhoewel dit ‘n ongelooflike verhouding kan wees, kan dit ook baie gekompliseerd raak. As jy op soek is na totale katliefde is die Oosterse Korthaar die een vir jou.